Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:8-16 Bybel vir Almal (ABA)

8. Hulle het gestry, want die Sadduseërs glo nie dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe nie. Hulle glo ook nie dat daar engele of geeste is nie. Maar die Fariseërs glo dit alles.

9. Almal het baie geraas en geskree. Party van die skrifgeleerdes wat ook Fariseërs was, het opgestaan en hulle het baie gestry en gesê: “Ons dink nie hierdie man, Paulus, het iets verkeerd gedoen nie! Miskien het ’n engel of ’n gees met hom gepraat.”

10. Toe het almal nog meer gestry en geraas. Die hoof-offisier het bang geword dat hulle vir Paulus stukkend sou skeur. Daarom het die hoof-offisier vir die soldate gesê hulle moet hardloop en hulle moet vir Paulus gaan gryp en hom terugneem na die soldate-kamp.

11. Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en Hy het vir Paulus gesê: “Jy moenie moedeloos word nie! Jy het nou vir die mense in Jerusalem van My vertel. So moet jy ook vir die mense in Rome van My gaan vertel.”

12. Daardie oggend het die Jode ’n geheime plan gemaak om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê: “God is ons getuie en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het!”

13. Dit was meer as 40 mense wat daardie geheime plan gemaak het.

14. Hulle het na die priesterleiers en die ouderlinge gegaan en vir hulle gesê: “Ons het gesê God moet ons getuie wees en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het.

15. Daarom moet julle en die Joodse Raad vir die hoof-offisier ’n boodskap stuur en sê hy moet vir Paulus na julle toe bring. Julle moet lieg en sê dat julle vir Paulus nog baie meer vrae wil vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het. Ons is gereed, ons sal vir Paulus doodmaak voordat hy by julle is.”

16. Maar die seun van Paulus se suster het gehoor dat die mans langs die pad wil wegkruip en dat hulle dan vir Paulus wil doodmaak. Daarom het hy na die soldate-kamp gegaan, en hy het vir Paulus gaan sê wat die mans wil doen.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23