Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:8-19 Bybel vir Almal (ABA)

8. Ek het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus van Nasaret. Jy doen slegte dinge aan My.’

9. “Die mense wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die Persoon gehoor wat met my gepraat het nie.

10. Ek het gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet opstaan en jy moet na Damaskus gaan. Daar sal iemand vir jou alles sê wat Ek wil hê jy moet doen.’

11. “Die lig was so skerp dat ek nie kon sien nie. Daarom het die mense wat saam met my gegaan het, my hand geneem en hulle het my gelei tot in Damaskus.

12. “Ananias het in Damaskus gewoon. Hy was lief vir die Here, hy het die Here gedien soos die Here wil hê. Ananias het alles gedoen wat die wette sê, en al die Jode wat in Damaskus woon, het geweet dat hy ’n goeie man is.

13. Ananias het na my toe gekom en hy het by my kom staan. Hy het vir my gesê: ‘Saul, vriend, jy moet weer sien!’ Dadelik kon ek weer sien en ek het na hom gekyk.

14. Ananias het vir my gesê: ‘Die God van ons voorouers het jou gekies om te weet wat Hy wil doen. Hy het jou ook gekies om die Regverdige te sien en sy eie stem te hoor.

15. Ja, God het jou gekies, want jy moet vir al die mense gaan vertel van die dinge wat jy gesien en gehoor het.

16. Jy moenie langer wag nie. Jy moet nou opstaan. Jy moet jou laat doop en jy moet bid tot Christus. Dan sal Hy jou sondes wegneem.’

17. “Toe het ek teruggegaan na Jerusalem. Ek was besig om in die tempel te bid, toe het ek iets gesien, dit was soos in ’n droom.

18. Ek het vir Christus gesien. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gou maak en jy moet vinnig weggaan uit Jerusalem, want die mense van Jerusalem sal nie glo wat jy vir hulle wil vertel van My nie.’

19. En ek het vir Hom gesê: ‘Here, hulle weet self dat ek na al die sinagoges gegaan het, hulle weet dat ek die mense gevang het en geslaan het, die mense wat in U geglo het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22