Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:22-30 Bybel vir Almal (ABA)

22. Die Jode het tot hier geluister na wat Paulus sê. Toe het hulle hard begin skree en hulle het gesê: “Julle moet hom wegvat en doodmaak! Iemand soos hy mag nie lewe nie!”

23. Hulle het niks gehou van wat Paulus gesê het nie, hulle het geskree en hulle het party van hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi.

24. Die hoof-offisier het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus na die soldate-kamp neem en hulle moet hom met ’n sweep slaan totdat hy sê wat hy verkeerd gedoen het. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode so geskree en geraas het teen Paulus.

25. Die soldate het begin om Paulus met toue vas te maak. Die offisier het by hulle gestaan, en Paulus het vir hom gesê: “Ek is ’n Romeinse burger. Julle mag my nie met ’n sweep slaan nie, want ’n regter het my nog nie ge-oordeel nie.”

26. Toe die offisier hoor wat Paulus sê, het hy vir die hoof-offisier gaan sê: “Wat gaan jy nou doen? Hierdie man is ’n Romeinse burger.”

27. Die hoof-offisier het vir Paulus kom vra: “Is jy ’n Romeinse burger?”Paulus het geantwoord: “Ja.”

28. Die hoof-offisier het vir Paulus gesê: “Ek moes baie geld betaal om ’n Romeinse burger te word.”Maar Paulus het gesê: “Ek is ’n Romeinse burger vandat ek gebore is.”

29. Die soldate wat Paulus met ’n sweep wou slaan, het dadelik teruggestaan, en die hoof-offisier was ook bang, want die hoof-offisier het besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy vir Paulus laat vasbind het.

30. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode vir Paulus beskuldig het. Daarom het hy die volgende dag vir Paulus uit die tronk laat kom. Toe het die hoof-offisier gesê die hoëpriester en die hele Joodse Raad moet ’n vergadering hou. Hy het vir Paulus na die Joodse Raad geneem en hy het vir Paulus voor hulle laat staan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22