Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:8-22 Bybel vir Almal (ABA)

8. Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie lampe in die kamer gebrand.

9. Eutiges, ’n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood.

10. Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.”

11. Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog ’n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan.

12. Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie bemoedig.

13. Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan.

14. Toe Paulus ons in Assus ontmoet, het ons hom opgelaai en na die stad Mitilene geseil.

15. Ons het van Mitilene verder geseil en die volgende dag was ons oorkant die eiland Chios. Die volgende dag het ons verby die eiland Samos gegaan en die dag daarna het ons by die stad Milete aangekom.

16. Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem wees.

17. Toe ons in die stad Milete was, het Paulus ’n boodskap na die ouderlinge van die gemeente in die stad Efese gestuur. Hy het vir hulle gesê hulle moet na hom toe kom in Milete.

18. Toe hulle by Paulus kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet wat ek alles gedoen het, die hele tyd van die eerste dag af toe ek in die provinsie Asië gekom het.

19. Julle weet dat ek die Here gedien het, dat ek baie nederig was, dat ek baie gehuil het en dat ek baie swaar gekry het omdat die Jode geheime planne gemaak het om my dood te maak.

20. Julle weet dat ek altyd dinge gedoen het wat vir julle gehelp het. Ek het vir julle vertel van God se boodskap en ek het vir julle geleer, ek het dit gedoen waar almal dit kon sien en ek het dit ook in julle huise gedoen.

21. Julle weet dat ek ernstig gepraat het met Jode en ook met Grieke. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê. En ek het vir hulle gesê hulle moet glo in ons Here Jesus.

22. “Nou gaan ek na Jerusalem, want die Heilige Gees wil hê ek moet daarnatoe gaan, en ek is gehoorsaam aan die Heilige Gees. Ek weet nie wat in Jerusalem met my sal gebeur nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20