Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Al die gelowiges was bymekaar op die dag van die Pinksterfees.

2. Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos ’n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het.

3. Toe sien hulle iets wat lyk soos ’n klomp vuurvlamme bymekaar. Die vlamme het gelyk soos tonge, en ’n vlam het op elke gelowige gaan sit.

4. Die Heilige Gees het in hulle almal gekom en hulle het begin praat in ander tale. Die Gees het hulle laat praat in hierdie tale.

5. Daar was Jode in Jerusalem, hulle het in ander dele van die wêreld grootgeword en het toe in Jerusalem kom woon. Daar was Jode van elke land in die wêreld. Hierdie Jode was lief vir die Here en hulle het Hom gedien soos Hy wil hê.

6. Toe hulle hoor dat hierdie sterk wind kom, het baie van hierdie Jode saamgekom by die huis. Hulle het nie geweet wat gebeur nie, want hulle het gehoor hoe praat die gelowiges in die tale van elkeen van hulle wat uit die ander lande van die wêreld kom.

7. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Al hierdie mense wat so praat, kom van Galilea.

8. Elkeen van ons hoor sy eie taal wanneer hulle praat. Hoe gebeur dit?

9. Want ons is Jode uit verskillende volke: Perse, Mediërs, Elamiete, mense wat woon in Mesopotamië, Judea, Kappadosië, Pontus, Asië,

10. Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië naby Sirene, en mense wat woon in Rome,

11. ook Jode en heidene wat die Jode se godsdiens aanvaar het, Kretensers en Arabiere. Ons hoor hoe praat hulle in ons eie tale oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12. Hierdie Jode was almal verbaas en deurmekaar. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat kan dit beteken?”

13. Maar ander mense het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2