Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:1-20 Bybel vir Almal (ABA)

1. Paulus en Silas het deur die stede Amfipolis en Apollonië gegaan, en toe het hulle in die stad Tessalonika gekom. Daar was ’n sinagoge van die Jode in Tessalonika.

2. Paulus het na die sinagoge gegaan, hy het dit altyd gedoen. Daar het hy drie weke lank elke Sabbatdag met die Jode gepraat. Hy het in die Ou Testament gelees

3. en hy het dit vir hulle verduidelik. Hy het ook vir hulle verduidelik dat die Christus moes swaarkry en sterf en dat Hy weer moes lewe. Hy het ook gesê: “Ek vertel vir julle van Jesus. Hý is die Christus.”

4. Party van hulle het gedink dit is reg wat Paulus vir hulle gesê het, en hulle het begin glo soos Paulus en Silas glo. Baie van die Grieke wat vir God gerespekteer het, en baie van die belangrike vroue, het ook begin glo in Jesus.

5. Maar die Jode het jaloers geword en hulle het ’n klomp slegte mense wat nie werk nie, saam met hulle geneem en hulle het die mense in die stad kwaad gemaak. Toe het hulle Jason se huis aangeval, want hulle het vir Paulus en Silas gesoek om hulle voor die vergadering van die volk te bring.

6. Maar die Jode het nie vir Paulus en Silas gekry nie, en daarom het hulle vir Jason en party van die gelowiges na die leiers van die stad geneem en geskree: “Dit is hierdie mense wat al die mense se koppe deurmekaar gemaak het, en hulle is nou hier.

7. Jason het hulle genooi om in sy huis in te kom. Al hierdie mense breek die wette van die keiser, hulle sê daar is ’n ander koning, en sy naam is Jesus.”

8. Die leiers en baie mense in die stad wat hierdie dinge gehoor het, het bekommerd geword.

9. Ander gelowiges het vir Jason gehelp en hulle het vir hom borg gestaan. Toe die leiers genoeg geld gekry het, het hulle vir Jason en die ander gelowiges vry laat weggaan.

10. Toe dit donker geword het, het die gelowiges dadelik vir Paulus en Silas na Berea gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.

11. Hierdie Jode was anders as die Jode in Tessalonika, hulle wou graag leer en hulle het baie graag geluister na wat Paulus en sy vriende vertel het. Hulle het elke dag die Ou Testament baie goed gelees om te kyk of die dinge waar is wat Paulus en sy vriende vertel het.

12. Baie van die Jode en van die belangrike Griekse vroue en mans het in die Here Jesus begin glo.

13. Maar toe die Jode van die stad Tessalonika hoor dat Paulus ook in die stad Berea vir die mense die boodskap van God gebring het, het hulle ook daarnatoe gekom en hulle het baie mense opstandig en kwaad gemaak.

14. Die gelowiges het toe dadelik vir Paulus weggestuur na die see toe, maar Silas en Timoteus het altwee in Berea gebly.

15. Die mense wat saam met Paulus gegaan het, het hom na die stad Atene gebring. Paulus het vir hulle gesê dat hulle vir Silas en Timoteus moet gaan sê om dadelik na hom toe te kom. Hulle het toe van daar teruggegaan na Berea.

16. Terwyl Paulus in die stad Atene vir Silas en Timoteus gewag het, het Paulus baie kwaad en ontsteld geword toe hy sien dat die stad vol beelde van afgode was.

17. Paulus het in die sinagoge gepraat met die Jode en die Grieke wat vir God respekteer. Hy het ook elke dag op die mark met almal gepraat wat daar gekom het.

18. Party filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met Paulus gestry. Party van hulle het gesê: “Hierdie man is ’n grootmond, hy spog baie. Wat wil hy vir ons leer?”Ander mense het gesê: “Ons dink hy is ’n boodskapper van gode wat ons nie ken nie.”Hulle het dit gesê omdat Paulus vir die mense vertel het van die goeie boodskap van Jesus en dat God mense weer sal laat lewe.

19. Hulle het toe vir Paulus na die vergadering op die Areopagus geneem en vir hom gesê: “Ons wil nou weet wat die nuwe dinge is wat jy vir die mense leer.

20. Want party dinge wat jy sê, het ons nog nie voorheen gehoor nie. Daarom wil ons weet wat hierdie dinge beteken.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17