Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Paulus en Barnabas het in die stad Ikonium dieselfde gedoen wat hulle in Antiogië gedoen het. Hulle het na die sinagoge van die Jode gegaan. Daar het Paulus en Barnabas baie oor Jesus gepraat en baie Jode en Grieke het in Jesus begin glo.

2. Maar die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, het vir die heidene slegte dinge van die gelowiges vertel en die heidene het vyande geword van die gelowiges.

3. Barnabas en Paulus het ’n lang tyd daar in Ikonium gebly en hulle was nie bang om vir die mense te vertel van die genade van die Here nie. Die Here het ook gewys dat hulle boodskap waar is, want Hy het vir hulle die krag gegee om wonderwerke en tekens te doen.

4. Die mense van die stad het in twee groepe verdeel. Die een groep het gedink die Jode is reg, maar die ander groep het gedink die apostels is reg.

5. Toe het die heidene en die Jode en hulle leiers besluit om slegte dinge te doen aan die apostels, hulle het besluit om die apostels dood te gooi met klippe.

6. Toe die apostels hoor wat die mense wil doen, het hulle gevlug na die stede Listre en Derbe. Hierdie stede was in die deel van die land wat die mense “Likaonië” genoem het.

7. Hulle het daar die goeie boodskap gepreek.

8. In die stad Listre was daar ’n man, sy voete was verlam. Hy het nooit geloop nie, vandat hy gebore is.

9. Die man het na Paulus geluister terwyl Paulus gepraat het. Paulus het lank na hom gekyk en toe hy sien dat die verlamde man glo dat God hom gesond kan maak,

10. het Paulus hard en duidelik gesê: “Staan op, staan regop op jou voete!”En dadelik het die man regop gespring en het hy begin rondloop.

11. Toe die mense die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, het hulle hard in die taal van die mense van Likaonië geskree: “Die gode het afgekom na ons toe en hulle het soos mense geword!”

12. Die mense het toe vir Barnabas “Zeus” genoem en hulle het vir Paulus “Hermes” genoem omdat Paulus die een was wat die meeste gepraat het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14