Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:15-25 Bybel vir Almal (ABA)

15. Nadat iemand ’n deel uit die Wette van Moses en ’n deel uit die boeke van die profete gelees het, het die leiers van die sinagoge iemand na Paulus en sy vriende toe gestuur om vir hulle te sê: “Vriende, as iemand van julle iets wil sê om die volk te bemoedig, dan moet julle nou praat.”

16. Paulus het toe opgestaan en hy het met sy hand gewys dat hulle moet stilbly. Hy het gesê:“Israeliete, en julle ander wat vir God respekteer, julle moet luister na wat ek sê.

17. Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers gekies, en toe hulle vreemdelinge in die land Egipte was, het Hy die volk baie meer laat word. Hy het gewys hoe sterk Hy is en Hy het die volk Israel uitgelei uit Egipte.

18. God was omtrent 40 jaar lank baie geduldig met hulle in die woestyn.

19. Toe het God sewe volke in die land Kanaän verwoes en Hy het die land vir die Israeliete gegee om hulle land te wees,

20. omtrent 450 jaar lank. En toe het God leiers gegee om oor hulle te regeer totdat Samuel, die profeet gekom het.

21. En toe het die Israeliete ’n koning gevra, en God het Saul gegee om hulle koning te wees. Saul was die seun van Kis, ’n man uit die Benjamin-stam. Saul was 40 jaar lank koning.

22. En nadat God vir Saul laat ophou het om koning te wees, het Hy vir Dawid gekies en aangestel om koning te wees oor die Israeliete. God het gesê: ‘Ek het gesien dat Dawid, die seun van Isai, ’n man is wat lewe soos Ek wil hê. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’

23. God het vir Israel die Redder Jesus laat kom uit hierdie man se nageslag. Dit is wat God belowe het om te doen.

24. Voordat Jesus met sy werk begin het, het Johannes vir die hele volk Israel gepreek. Johannes het gesê die mense moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop.

25. En toe Johannes aan die einde van sy werk gekom het, het hy baie maal gesê: ‘Wie dink julle is ek? Julle dink ek is die Een wat sal kom, soos God belowe het, maar ek is nie. Later sal daar Iemand kom, en ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.’

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13