Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar was profete en leermeesters in die gemeente in die stad Antiogië. Hulle was Barnabas en Simeon, Simeon se naam was ook Niger. Daar was ook Lucius van Sirene, Manaen wat grootgeword het saam met Herodes Antipas, wat oor ’n deel van Palestina regeer het, en ook Saulus.

2. Terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Ek het vir Barnabas en Saulus gekies om werk vir My te doen, julle moet nou vir hulle aanstel om die werk te gaan doen.”

3. Nadat die gemeente gevas en gebid het en hulle hande op Barnabas en Saulus gesit het, het die gemeente hulle gestuur om die werk te gaan doen.

4. Toe die Heilige Gees vir Barnabas en Saulus gestuur het om te gaan preek, het hulle na die hawestad Seleukië gegaan en van daar het hulle met ’n skip na die eiland Siprus geseil.

5. Toe hulle in die stad Salamis kom, het hulle aangehou om vir die mense die boodskap van God te bring in die sinagoges van die Jode. Johannes was ook by Barnabas en Saulus om hulle te help.

6. Hulle het deur die hele eiland gegaan tot by die stad Pafos. Daar het hulle ’n man ontmoet, sy naam was Barjesus. Hy was ’n Joodse towenaar en ’n vals profeet.

7. Barjesus was daar by die goewerneur, Sergius Paulus. Sergius Paulus was ’n verstandige man. Die goewerneur het toe vir Barnabas en Saulus laat roep omdat hy baie graag die boodskap oor God wou hoor.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13