Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom!

6. Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor.

7. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink.

8. Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ’n mens trots kan wees.

9. Julle het geleer en gehoor en gesien hoe ek lewe. Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees.

10. Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie.

11. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het.

12. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad.

13. Christus gee vir my die krag om enige iets te doen,

14. maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het.

15. Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het.

16. Julle het ook ’n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was.

17. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee.

Lees volledige hoofstuk Filippense 4