Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. My vriende, julle moet bly wees, want julle behoort aan die Here! Dit maak my nie moeg om dieselfde dinge weer en weer vir julle te skryf nie, want dit is goed vir julle.

2. Julle moet oppas vir daardie slegte mense wat vir julle verkeerde dinge leer! Julle moet oppas vir daardie mense wat slegte dinge doen! Julle moet oppas vir daardie mense wat altyd almal wil besny!

3. Ons het die regte besnydenis, want die Gees van God help ons om vir God te dien. Ons is trots op Christus Jesus, en ons het self dinge reggekry, maar ons weet daardie dinge sal ons nie red nie.

4. Ek kan praat oor baie dinge in my lewe. Ander mense dink hierdie dinge kan ’n mens red. Hulle dink hulle kan praat oor baie dinge in hulle lewens, maar ek kan oor baie meer praat:

5. My ouers het my laat besny toe ek ag dae oud was. Ek behoort aan die volk Israel, ek behoort aan die Benjamin-stam, ek is ’n ware Jood, en ek was ’n Fariseër wat alles gedoen het wat die wette sê.

6. Die Joodse godsdiens was vir my so belangrik dat ek die kerk van God wou verwoes. Ek het gedink God sal my vryspreek van my sonde, want ek het alles gedoen wat die wette sê.

7. Ja, ek het gedink al hierdie dinge is baie belangrik, maar ek het in Christus begin glo, en toe het ek besef dit alles beteken niks!

8. Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry!

9. Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo.

10. Nou ken ek Hom en ek voel sy krag in my lewe, die krag wat Hom weer laat lewe het. Ek kry ook swaar, soos Hy swaargekry het. Ja, ek sterf soos Hy gesterf het,

11. en ek glo dat God my ook weer kan laat lewe nadat ek gesterf het.

Lees volledige hoofstuk Filippense 3