Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 3:7-18 Bybel vir Almal (ABA)

7. Nou is dit my werk om die goeie boodskap vir julle te bring. Dit is die present wat God vir my gegee het. God was goed vir my, Hy is sterk en Hy het my verander.

8. Ja, God was baie goed vir my. Ek is minder belangrik as al die ander mense wat aan God behoort, maar God het gesê ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring. Die goeie boodskap is dat Christus baie goeie dinge vir mense gee, baie meer as wat hulle kan weet.

9. God wat alles gemaak het, het eeue lank vir niemand gesê wat Hy wil doen nie, niemand het sy boodskap oor Christus geken nie. Maar nou het God gesê ek moet vir almal help om te verstaan wat Hy doen.

10. Daarom kan die kerk nou vir almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, vertel van die wonderlike wysheid van God.

11. God het lank gelede besluit wat Hy wou doen. Hy het Christus Jesus, ons Here, gestuur om dit te doen.

12. Ons behoort aan Christus en ons glo in Hom. Daarom is ons nie bang om vir God iets te vra nie. Ons glo dat God sal doen wat Hy gesê het.

13. Ek bid dat julle nie moedeloos sal word omdat ek swaarkry nie. Nee, julle kan trots wees dat ek swaarkry.

14. God is baie goed vir ons. Daarom kniel ek en bid ek tot Hom, ons Vader.

15. Hy is die Vader wat almal laat lewe, almal in die hemel en op die aarde.

16. Ek bid en vra vir God, ons Koning, dat Hy die Heilige Gees moet gebruik en dat Hy julle moet help sodat die geloof in julle harte sterker word.

17. Ek bid dat julle sal glo in Christus, dat Hy in julle harte sal woon en dat julle lewens heeltemal vol liefde sal wees.

18. Dan sal julle weet hoe groot Christus se liefde vir julle is, hoe wyd, hoe lank, hoe hoog en hoe diep dit is. Julle sal dit weet saam met die ander mense wat aan God behoort.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 3