Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4:8-22 Bybel vir Almal (ABA)

8. Nou weet ek dat ek eendag die lourier-krans sal kry. Die Here besluit reg, Hy sal op daardie dag die kransie vir my gee. Hy is die Regter wat altyd reg besluit. Hy sal die kransie nie net vir my gee nie, Hy sal dit gee vir almal wat lief is vir Hom, vir almal wat wag dat Hy sal verskyn.

9. Timoteus, jy moet hard probeer om gou na my toe te kom,

10. want Demas het my alleen gelos. Hy het besluit dat hierdie wêreld vir hom die belangrikste is en hy het na die stad Tessalonika gegaan. Kressens het na die land Galasië gegaan en Titus het na die land Dalmasië gegaan.

11. Dit is net Lukas wat nou by my is. Jy moet vir Markus gaan haal en jy moet hom saam met jou bring, want hy kan my baie goed help om my werk te doen.

12. Ek het vir Tigikus na die stad Efese gestuur.

13. Wanneer jy kom, dan moet jy die bo-kleed vir my saambring, ek het dit in Troas by Karpus gelos. Jy moet ook die boeke bring, die boekrolle van vel is die belangrikste wat jy moet saambring.

14. Aleksander, die ambagsman wat met koper werk, het baie slegte dinge aan my gedoen. Die Here sal hom oordeel oor wat hy gedoen het.

15. Pasop vir hom, want hy het altyd baie hard teen my gewerk en probeer keer dat mense glo wat ek sê.

16. Toe ek die eerste maal in die hof gekom het omdat mense my beskuldig het, het niemand my gehelp nie, almal het my alleen gelos. Ek hoop dat die Here hulle nie sal straf nie.

17. Maar die Here het my gehelp, Hy het my sterk gemaak. Daarom kon ek die goeie boodskap klaar bring en al die heidene kon dit hoor. Die Here het my gered van my vyande soos ’n mens iemand red van ’n leeu.

18. En die Here sal my ook altyd red wanneer mense my wil laat swaarkry. Hy sal my veilig na die hemel bring waar Hy Koning is. Daarom moet ons die Here prys, altyd en altyd. Amen.

19. Sê groete vir Priska en Akwila en die huisgesin van Onesiforus.

20. Erastus het in die stad Korinte gebly. Ek het vir Trofimus in die stad Milete gelos, hy was siek.

21. Jy moet gou na my toe kom, voor die winter. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander vriende stuur groete vir jou.

22. Ek bid dat die Here by jou sal wees. Ek bid dat die Here genadig sal wees vir julle.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 4