hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus sê hoe Timoteus sy werk moet doen

1. Christus Jesus kom weer. Hy sal vir almal wys dat Hy Koning is en Hy sal die mense oordeel, die mense wat nog lewe en die mense wat klaar gesterf het. Daarom sê ek vir jou, en God en Christus Jesus hoor wat ek vir jou sê:

2. Jy moet die boodskap vir mense bring, jy moet aanhou om dit te doen, wanneer mense dit wil hoor en ook wanneer hulle dit nie wil hoor nie. Jy moet vir hulle sê wat hulle verkeerd doen, jy moet kwaai praat met hulle wanneer hulle verkeerde dinge doen, jy moet vir hulle sê hulle moenie moedeloos word nie, jy moet baie geduldig wees en vir hulle leer.

3. Want die tyd sal kom wanneer mense nie sal wil luister wanneer iemand vir hulle die regte dinge leer nie. Nee, hulle sal net die dinge wil hoor wat hulle wil hoor. Daarom sal hulle baie mense kies wat vir hulle leer soos húlle dit wil hê.

4. Dan sal hulle nie meer luister na die waarheid nie, hulle sal luister na stories wat nie waar is nie.

5. Maar jy, Timoteus, jy moet altyd goed dink wat jy doen, jy moet aanhou, ook wanneer dit sleg gaan met jou. Dit is jou werk om die goeie boodskap vir mense te bring, en jy moet dit doen, jy moet al die werk klaarmaak wat die Here vir jou gegee het.

Paulus se dood is naby

6. My tyd om te sterf, is nou baie naby. Ek is soos ’n drank-offer wanneer iemand dit uitgooi.

7. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand boks of wanneer hy resies hardloop. Ek het die resies klaar gehardloop, ek het aangehou om te glo.

8. Nou weet ek dat ek eendag die lourier-krans sal kry. Die Here besluit reg, Hy sal op daardie dag die kransie vir my gee. Hy is die Regter wat altyd reg besluit. Hy sal die kransie nie net vir my gee nie, Hy sal dit gee vir almal wat lief is vir Hom, vir almal wat wag dat Hy sal verskyn.

Paulus vra vir Timoteus om iets vir hom te doen

9. Timoteus, jy moet hard probeer om gou na my toe te kom,

10. want Demas het my alleen gelos. Hy het besluit dat hierdie wêreld vir hom die belangrikste is en hy het na die stad Tessalonika gegaan. Kressens het na die land Galasië gegaan en Titus het na die land Dalmasië gegaan.

11. Dit is net Lukas wat nou by my is. Jy moet vir Markus gaan haal en jy moet hom saam met jou bring, want hy kan my baie goed help om my werk te doen.

12. Ek het vir Tigikus na die stad Efese gestuur.

13. Wanneer jy kom, dan moet jy die bo-kleed vir my saambring, ek het dit in Troas by Karpus gelos. Jy moet ook die boeke bring, die boekrolle van vel is die belangrikste wat jy moet saambring.

14. Aleksander, die ambagsman wat met koper werk, het baie slegte dinge aan my gedoen. Die Here sal hom oordeel oor wat hy gedoen het.

15. Pasop vir hom, want hy het altyd baie hard teen my gewerk en probeer keer dat mense glo wat ek sê.

16. Toe ek die eerste maal in die hof gekom het omdat mense my beskuldig het, het niemand my gehelp nie, almal het my alleen gelos. Ek hoop dat die Here hulle nie sal straf nie.

17. Maar die Here het my gehelp, Hy het my sterk gemaak. Daarom kon ek die goeie boodskap klaar bring en al die heidene kon dit hoor. Die Here het my gered van my vyande soos ’n mens iemand red van ’n leeu.

18. En die Here sal my ook altyd red wanneer mense my wil laat swaarkry. Hy sal my veilig na die hemel bring waar Hy Koning is. Daarom moet ons die Here prys, altyd en altyd. Amen.

Paulus stuur groete vir die mense in Efese

19. Sê groete vir Priska en Akwila en die huisgesin van Onesiforus.

20. Erastus het in die stad Korinte gebly. Ek het vir Trofimus in die stad Milete gelos, hy was siek.

21. Jy moet gou na my toe kom, voor die winter. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander vriende stuur groete vir jou.

22. Ek bid dat die Here by jou sal wees. Ek bid dat die Here genadig sal wees vir julle.