Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ons liggame is soos ’n tent waarin ’n mens woon. Ons weet, wanneer God hierdie tent van ons afbreek, die tent wat op die aarde is, dan het ons ’n gebou van God in die hemel. Dit is nie mense wat dit gebou het nie, en dit is vir altyd.

2. Terwyl ons in hierdie tent van ons woon, kla en sug ons. Ons verlang om ons hemelse gebou bo-oor ons tent te sit.

3. Wanneer ons weggegaan het uit hierdie tent op die aarde, dan wil ons nie niks hê nie.

4. Ja, ons wat nog in die aardse tent woon, sug. Ons kry swaar, want ons is bang om weg te gaan uit die aardse tent. Ons wil die hemelse gebou bo-oor die tent sit sodat ons hemelse lewe dadelik sal kom in die plek van ons aardse lewe.

5. Dit is God wat ons gereedgemaak het om dadelik te verander. Hy het sy Gees vir ons gegee, en so weet ons dat God vir ons alles sal gee wat Hy vir ons belowe het.

6. Maar ons glo en vertrou altyd. Ons weet dat ons nog nie by die Here woon terwyl ons in ons liggame woon nie.

7. Ons moet glo terwyl ons hier op die aarde lewe. Ons sien nog nie alles soos dit sal wees nie.

8. Maar ons glo en vertrou en ons verlang daarna om nie meer in ons liggame te woon nie, ons verlang om by die Here te woon.

9. Daarom probeer ons om só te lewe dat die Here tevrede sal wees met ons terwyl ons in ons liggame woon en ook wanneer ons nie meer in ons liggame woon nie.

10. Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5