Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:3-11 Bybel vir Almal (ABA)

3. Daar is weduwees wat nie familie het wat vir hulle kan sorg nie. Jy moet hulle respekteer en vir hulle sorg.

4. Maar wanneer ’n weduwee kinders of kleinkinders het wat vir haar kan sorg, dan moet die kinders of kleinkinders weet dat sy hulle eie familie is en dat hulle vir haar moet sorg. So moet hulle vir God dien. Hulle moet vir hulle ouers en grootouers sorg soos hulle ouers voorheen vir húlle gesorg het. Dit is wat God wil hê hulle moet doen.

5. Maar wanneer ’n weduwee alleen oorgebly het en sy het nie familie wat vir haar kan sorg nie, dan kan sy seker weet dat God vir haar sal sorg. Sy sê elke dag en nag vir God wat sy nodig het en sy bid tot Hom.

6. Maar ’n weduwee wat altyd dink oor hoe sy die lewe kan geniet, is geestelik dood terwyl sy lewe.

7. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê, sodat almal heeltemal reg sal lewe.

8. Maar wanneer iemand nie vir sy eie mense sorg nie, ook nie vir sy eie huisgesin nie, dan is hy nie meer ’n gelowige nie, dan is hy slegter as die mense wat nie in Christus glo nie.

9. Wanneer ’n weduwee 60 jaar oud is, dan mag julle haar naam op die lys van weduwees skryf, maar nie voordat sy 60 jaar oud is nie. En sy moet net een man gehad het.

10. Die ander mense moet mooi dinge oor hierdie weduwee kan vertel. Mense moet weet en sê dat sy haar kinders goed grootgemaak het, dat sy goed was vir vreemdelinge, dat sy die voete van ander gelowiges gewas het, dat sy mense gehelp het wat swaargekry het, dat sy baie dinge gedoen het wat goed is.

11. Maar jy moenie die jonger weduwees se name op die lys van weduwees skryf nie, want wanneer hulle aan mans dink, dan vergeet hulle miskien dat hulle vir Christus moet werk, en dan wil hulle graag weer trou.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5