Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 8:8-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid.

9. So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word.

10. Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak.

11. Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige.

12. Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee.

13. Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed!

14. So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige.

15. Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie!

16. Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees.

17. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 8