Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 14:3-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het.

4. Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal 'n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe.

5. Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda.Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.

6. Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.

7. Dit sal 'n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees.

8. Daardie dag sal daar 'n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter.

9. Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam.

10. Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe.

11. Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees.

12. Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.

13. Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval.

14. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede.

15. Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.

16. Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier.

17. Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie.

18. En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 14