Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 2:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het,

15. het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie;

16. julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.”

17. Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram.

18. Sy het dit gevat en saamgeneem stad toe. Haar skoonma het gesien hoeveel sy bymekaargemaak het. Rut het ook van die kos wat sy oorgehou het, vir haar skoonma gegee.

19. Haar skoonma vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en wat het jy alles gedoen? Mag dié een wat in jou belang gestel het, deur die Here geseën word.” Sy het toe vir haar skoonma vertel wat sy gedoen het en dat die man by wie sy die dag gewerk het, se naam Boas is.

20. Naomi sê toe vir haar skoondogter: “Mag hy geseën word deur die Here wat nie nalaat om sy trou aan lewendes en dooies te bewys nie. En,” het Naomi bygevoeg, “hierdie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.”

21. Rut, die Moabitiese vrou, sê toe: “Hy het ook nog vir my gesê ek moet by sy werksters bly totdat hulle klaar geoes het.”

22. Hierop sê Naomi vir haar: “Dit is goed vir jou, my dogter, dat jy saam met sy werksters uitgaan. Op 'n ander land sal jy dalk gemolesteer word.”

23. Rut het toe saam met die werksters van Boas are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het nog by haar skoonma gewoon.

Lees volledige hoofstuk Rut 2