Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8:16-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe het hy die leiers van die stad gevat en hulle 'n les geleer met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn.

17. Hy het ook die toring van Pniël platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak.

18. Toe het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Watter soort mense is deur julle vermoor op Tabor?” en hulle antwoord: “Hulle was almal soos u, elkeen het soos 'n koningskind gelyk.”

19. Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.”

20. Toe beveel Gideon sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood!”Maar die seun het nie 'n vinger verroer nie, want hy was 'n blote kind en hy was bang.

21. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Kom jy, bring jy ons om die lewe. 'n Man se krag lê in homself.”Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom gevat.

22. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet oor ons regeer: jy, jou seun en sy nageslag. Jy het ons gered uit die mag van Midian.”

23. Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.”

24. Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my 'n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.”

25. Die Israeliete het geantwoord: “Dit doen ons graag.”Hulle het 'n doek oopgegooi en elkeen het 'n oorring uit sy buit daarop gegooi.

26. Die gewig van die goue oorringe wat Gideon gevra het, was negentien en 'n half kilogram. Die maanversierings, oorbelle en pers klere van die Midianitiese konings was nie daarby gereken nie en ook nie die kettinkies rondom die kamele se nekke nie.

27. Gideon het 'n efodbeeld van die goud gemaak en dit in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op dié wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense 'n valstrik.

28. Die Midianiete was onderdanig aan Israel. Hulle het nie weer in opstand gekom nie, en daar was veertig jaar lank vrede in die land in die dae van Gideon.

29. Jerubbaäl seun van Joas het na die oorlog teen Midian in sy huis gaan woon.

Lees volledige hoofstuk Rigters 8