Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het.

5. Die Israeliete het toe gewoon tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

6. Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien.

7. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en die gewyde pale gedien.

8. Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië en hulle was ag jaar sy onderdane.

9. Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle 'n redder na vore laat kom wat hulle gered het. Hy was Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb.

10. Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer. Otniël het oorlog gemaak teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië, en die Here het hom oorgegee in die mag van Otniël. Hy het vir Kusan-Risatajim verslaan.

11. Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.

12. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3