Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Eglon het die Ammoniete en ook vir Amalek by hom laat aansluit, en hulle het die Israeliete gaan verslaan en die Palmstad verower.

14. Die Israeliete was agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab.

15. Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het 'n redder vir hulle na vore laat kom, Ehud seun van Gera, 'n Benjaminiet. Ehud was links, en die Israeliete het hom met die belasting gestuur na koning Eglon van Moab toe.

16. Ehud het vir hom 'n swaard gemaak, 'n halwe meter lank en aan albei kante geslyp. Hy het dit aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak.

17. Hy het die belasting oorhandig aan koning Eglon van Moab, 'n baie vet man.

18. Nadat Ehud die belasting oorhandig het, het die koning die mense wat dit gebring het, laat vertrek,

19. maar Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “Koning Eglon, ek het 'n geheime boodskap om vir u te gee.”Toe sê die koning: “Laat ons alleen,” en al sy amptenare het van hom af weggegaan.

20. Ehud het nader gekom na die koning toe waar hy gesit het in sy koel bovertrek wat net vir hom bedoel was, en vir hom gesê: “Ek het 'n boodskap van God vir u.”Hy het toe opgestaan van sy troon af,

21. en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek.

22. Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie. Hy het toe deur 'n geheime uitgang

23. en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3