Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het hierdie nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, dié Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie.

2. Die Here wou hierdie Israeliete leer hoe om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie. Die volgende nasies is met rus gelaat:

3. die Filistyne met hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die mense van Sidon en die Hewiete wat Libanonberg bewoon het, van Baäl-Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

4. Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het.

5. Die Israeliete het toe gewoon tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

6. Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien.

7. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en die gewyde pale gedien.

8. Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië en hulle was ag jaar sy onderdane.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3