Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. En nou is julle almal hier, Israeliete! Ons moet praat en net hier 'n plan maak!”

8. Die hele volk het eenparig verklaar: “Niemand mag na sy woonplek toe gaan nie, niemand mag teruggaan huis toe nie.

9. Dit is wat ons met Gibea sal doen: ons sal lootjies trek oor Gibea,

10. en uit elke honderd man uit die stamme van Israel sal ons tien man vat, uit elke duisend man honderd en uit elke tien duisend duisend om kos by die volk te gaan haal. Wanneer ons in Gibea by Benjamin kom, sal ons hom straf ooreenkomstig die lae ding wat hy in Israel gedoen het.”

11. Al die Israeliete het saamgestem en hulle het by Gibea bymekaargekom.

12. Toe stuur die stamme van Israel die manne na al die families in Benjamin toe met die boodskap: “Wat vir 'n lae ding het hier by julle plaasgevind?

13. Lewer nou die straatboewe van Gibea uit sodat ons hulle kan doodmaak en dié soort verkeerde ding uit Israel kan uitroei.”Maar die mense van Benjamin wou nie na hulle volksgenote, die Israeliete, luister nie.

14. Toe kom die mense van Benjamin uit al hulle stede bymekaar in Gibea om oorlog te maak teen die Israeliete.

15. Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate.

16. In daardie hele leër was daar sewe honderd knap soldate, almal links. Hulle kon keer op keer 'n haar raakgooi met 'n klip uit 'n slingervel.

17. Die Israeliete is ook getel, en sonder Benjamin was daar vier honderd duisend man wat kon veg, elkeen reg vir die oorlog.

18. Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?”Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”

19. Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20