Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe het al die Israeliete, dié van Dan tot dié van Berseba en dié uit die Gileadstreek, soos een man as gemeente in Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here.

2. Die leiers van die hele volk, van al die stamme van Israel, was daar in die vergadering van die volk van God. Daar was vier honderd duisend voetsoldate wat met die swaard kon veg.

3. Die Benjaminiete het verneem dat die ander Israeliete na Mispa toe opgetrek het. Die Israeliete het vir hulle gevra: “Sê ons tog! Hoe het hierdie lae ding plaasgevind?”

4. Toe antwoord die Leviet, die man van die vermoorde vrou: “Ek en my vrou het in Gibea gekom wat aan Benjamin behoort, om daar te oornag.

5. Toe wou die mans van Gibea my kom aanrand, en hulle het my die heel nag omsingel in die huis waar ek was. Hulle wou my doodmaak, en hulle het my byvrou verrinneweer, sodat sy gesterf het.

6. Toe het ek haar opgesny en rondgestuur deur die hele gebied wat aan Israel behoort, want die mense van Gibea het 'n afskuwelike en lae ding in Israel gedoen.

7. En nou is julle almal hier, Israeliete! Ons moet praat en net hier 'n plan maak!”

8. Die hele volk het eenparig verklaar: “Niemand mag na sy woonplek toe gaan nie, niemand mag teruggaan huis toe nie.

9. Dit is wat ons met Gibea sal doen: ons sal lootjies trek oor Gibea,

10. en uit elke honderd man uit die stamme van Israel sal ons tien man vat, uit elke duisend man honderd en uit elke tien duisend duisend om kos by die volk te gaan haal. Wanneer ons in Gibea by Benjamin kom, sal ons hom straf ooreenkomstig die lae ding wat hy in Israel gedoen het.”

11. Al die Israeliete het saamgestem en hulle het by Gibea bymekaargekom.

12. Toe stuur die stamme van Israel die manne na al die families in Benjamin toe met die boodskap: “Wat vir 'n lae ding het hier by julle plaasgevind?

13. Lewer nou die straatboewe van Gibea uit sodat ons hulle kan doodmaak en dié soort verkeerde ding uit Israel kan uitroei.”Maar die mense van Benjamin wou nie na hulle volksgenote, die Israeliete, luister nie.

14. Toe kom die mense van Benjamin uit al hulle stede bymekaar in Gibea om oorlog te maak teen die Israeliete.

15. Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20