Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:28-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Maar die koning van die Ammoniete het nie geluister na die boodskap wat Jefta gestuur het nie.

29. Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het deur Gilead en Manasse getrek en verbygetrek tot by Mispa in Gilead, en van daar af het hy teen die Ammoniete opgetrek.

30. Jefta het 'n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag,

31. sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.”

32. Jefta het na die Ammoniete toe getrek om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy mag oorgegee.

33. Jefta het hulle van Aroër af verslaan tot waar 'n mens kom by Minnit, twintig stede. By Abel-Keramim was daar 'n groot veldslag. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder.

34. Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koordanse. Sy was sy enigste kind. Hy het nie nog 'n seun of 'n dogter gehad nie.

35. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur en gesê: “Ag, my dogter, jy het my gebreek en in die ellende gedompel: ek het my woord aan die Here gegee en ek kan dit nie terugtrek nie.”

36. Jefta se dogter het hom geantwoord: “Pa, Pa het Pa se woord aan die Here gegee. Doen met my wat Pa gesê het nou dat die Here vir Pa gehelp het om Pa se vyande, die Ammoniete, te straf.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 11