Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:25-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Is jy dalk beter as koning Balak van Moab, seun van Sippor? Het hy dalk 'n saak gemaak teen Israel of met hom oorlog gemaak?

26. “Drie honderd jaar gelede het Israel in Gesbon en sy buitedorpe gaan woon, en ook in Aroër en sy buitedorpe, en in al die stede op die Arnonoewer. Waarom het jy hulle nie in daardie tyd teruggevat nie?

27. Ek het niks verkeerds teenoor jou gedoen nie; maar jy handel verkeerd teenoor my deur met my te kom oorlog maak. Die Here wat regter is, sal vandag uitspraak lewer in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.”

28. Maar die koning van die Ammoniete het nie geluister na die boodskap wat Jefta gestuur het nie.

29. Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het deur Gilead en Manasse getrek en verbygetrek tot by Mispa in Gilead, en van daar af het hy teen die Ammoniete opgetrek.

30. Jefta het 'n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag,

31. sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.”

32. Jefta het na die Ammoniete toe getrek om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy mag oorgegee.

33. Jefta het hulle van Aroër af verslaan tot waar 'n mens kom by Minnit, twintig stede. By Abel-Keramim was daar 'n groot veldslag. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder.

34. Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koordanse. Sy was sy enigste kind. Hy het nie nog 'n seun of 'n dogter gehad nie.

35. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur en gesê: “Ag, my dogter, jy het my gebreek en in die ellende gedompel: ek het my woord aan die Here gegee en ek kan dit nie terugtrek nie.”

36. Jefta se dogter het hom geantwoord: “Pa, Pa het Pa se woord aan die Here gegee. Doen met my wat Pa gesê het nou dat die Here vir Pa gehelp het om Pa se vyande, die Ammoniete, te straf.”

37. Sy het verder vir hom gesê: “Bewys my net hierdie guns: gee my twee maande uitstel om berge toe te gaan en daar saam met my vriendinne te gaan treur oor my lewe as jongmeisie.”

38. Hy het vir haar gesê: “Gaan gerus maar!”Hy het haar twee maande vrygelaat, en sy en haar vriendinne het berge toe gegaan en gaan treur oor haar lewe as jongmeisie.

39. Na die twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het met haar gehandel volgens sy gelofte wat hy afgelê het. Sy het nooit gemeenskap met 'n man gehad nie.

40. Dit het 'n gewoonte in Israel geword: dat die Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor die dogter van Jefta die Gileadiet.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11