Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jefta was 'n seun van Gilead. Hy was 'n dapper soldaat. Sy ma was 'n prostituut, maar sy pa was Gilead.

2. Gilead se vrou het ook vir hom seuns in die wêreld gebring, en toe hulle grootword, het hulle vir Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie van ons pa erf nie, want jy is die kind van 'n ander vrou.”

3. Toe vlug Jefta van sy broers af weg en gaan woon in Tob. 'n Klomp leeglêers het hulle by Jefta geskaar en saam met hom gegaan.

4. 'n Ruk daarna het die Ammoniete teen die Israeliete kom veg.

5. Dit is toe dat die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob gaan haal het.

6. Hulle het vir hom gesê: “Kom word ons aanvoerder sodat ons teen die Ammoniete kan veg.”

7. Jefta het vir die leiers van Gilead gesê: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?”

8. Maar die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Dit is juis waarom ons terug is by jou. Jy moet saam met ons kom sodat ons kan gaan oorlog maak teen die Ammoniete. Jy moet ons leier word en ook al die mense van Gilead s'n.”

9. Toe sê Jefta vir die leiers van Gilead: “Moet ek julle leier word as julle my terugneem om teen die Ammoniete te veg en die Here hulle in my mag oorgee?”

Lees volledige hoofstuk Rigters 11