Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 10:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was 'n seun van Puwwa, seun van Dodo uit Issaskar, en hy het in Samir op die Efraimsberge gewoon.

2. Hy was drie en twintig jaar lank die leier van Israel. Hy het gesterf, en hy is in Samir begrawe.

3. Na hom het Jaïr uit Gilead na vore gekom en hy was twee en twintig jaar lank die leier van Israel.

4. Jaïr het dertig seuns gehad en elkeen het op 'n jong donkie gery. Hulle het dertig dorpe besit en dit word nou nog die tentdorpe van Jaïr genoem. Die dorpe is in Gilead geleë.

5. Jaïr het gesterf, en hy is begrawe in Kamon.

6. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes en die gode van Sidon vereer, en ook dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne. Hulle was ontrou aan die Here, hulle het Hom nie gedien nie.

7. Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete.

Lees volledige hoofstuk Rigters 10