Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:25-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Hy het vir hulle gewys hoe om in die stad te kom. Die Josefstam het toe die stad verower en sy mense doodgemaak maar hierdie man en sy hele familie gespaar.

26. Hy is toe na die Hetiete toe en daar het hy vir hom 'n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.

27. Manasse kon nie die stede Bet-San en Taänak en hulle buitedorpe verslaan nie, ook nie die inwoners van die stede Dor, Jibleam en Megiddo en hulle buitedorpe nie. Die Kanaäniete was sterk genoeg om in daardie stede te bly woon.

28. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen maar nie die stede ingeneem nie.

29. Ook Efraim het nie die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, verslaan nie. Hulle het in Geser by Efraim bly woon.

30. Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verslaan nie. Die Kanaäniete het by Sebulon bly woon en moes dwangarbeid doen.

31. Aser het nie die inwoners van Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob verslaan nie.

32. Die mense van Aser het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, want Aser het hulle nie verslaan nie.

33. Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hy het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes dwangarbeid doen vir Naftali.

34. Die Amoriete het vir Dan berg-in gedryf en hom nie in die laagte laat kom nie.

35. Die Amoriete was sterk genoeg om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon. Maar toe die Josefstam sterker geword het, moes die Amoriete dwangarbeid doen.

36. Die grens van die Amoriete het by Skerpioenpas by die klip begin en het daarvandaan verder geloop.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1