Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Toe sê sy vir hom: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.”Kaleb het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.

16. Die Keniete, afstammelinge van Moses se skoonpa, het saam met Juda uit die Palmstad getrek na die Judawoestyn toe. Dit was geleë in die Suidland by Arad. Hulle het by die volk daar gaan woon.

17. Juda het met sy broer Simeon saamgespan en die Kanaäniete verslaan wat in Sefat woon. Hulle het die stad in puin gelê en dit Gorma genoem.

18-19. Die Here was by Juda, en hulle het die Bergland in besit geneem. Maar Juda kon nie die inwoners van die Vlakte verslaan en hulle stede verower nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad. Hulle stede was Gasa, Askelon en Ekron, elkeen met sy grondgebied.

20. Soos Moses beveel het, is Hebron aan Kaleb gegee, en hy het die drie nasate van Enak uit Hebron verdryf.

21. Die Jebusiete het in Jerusalem gewoon, en die Benjaminiete het hulle nie verslaan nie. Hulle woon nou nog saam met die Benjaminiete in Jerusalem.

22. Die Josefstam het na Bet-El toe opgeruk en die Here was by hulle.

23. Hulle het verkenners na Bet-El toe gestuur. Bet-El was vroeër bekend as Lus.

24. Die verkenners het 'n man uit die stad sien kom en vir hom gevra: “Wys ons tog hoe om in die stad te kom. Ons sal jou goed behandel.”

25. Hy het vir hulle gewys hoe om in die stad te kom. Die Josefstam het toe die stad verower en sy mense doodgemaak maar hierdie man en sy hele familie gespaar.

26. Hy is toe na die Hetiete toe en daar het hy vir hom 'n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.

27. Manasse kon nie die stede Bet-San en Taänak en hulle buitedorpe verslaan nie, ook nie die inwoners van die stede Dor, Jibleam en Megiddo en hulle buitedorpe nie. Die Kanaäniete was sterk genoeg om in daardie stede te bly woon.

28. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen maar nie die stede ingeneem nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1