Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 32:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die stamme Ruben en Gad het groot troppe vee besit. Hulle het gesien dat die Jaser- en Gileadstreke goeie veewêreld is,

2. en het toe vir Moses, die priester Eleasar en die volksleiers gaan sê:

3. “Die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon

4. wat deur die Here vir die volk Israel verower is, is goeie veewêreld, en ons het baie vee.

5. As u dit goedvind,” het hulle gesê, “gee dan hierdie gebied vir ons as besitting en moet ons nie verplig om deur die Jordaan te trek nie.”

6. Moses sê toe vir hulle: “Moet julle volksgenote gaan veg terwyl julle hier bly?

7. Waarom wil julle die ander Israeliete ontmoedig om na die land toe te trek wat die Here vir hulle gegee het?

8. So het julle voorvaders ook gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken.

9. Hulle het tot by Eskolspruit gegaan en die land verken, en toe die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land toe wou gaan wat die Here vir hulle gegee het nie.

10-11. Dié dag het die Here baie kwaad geword omdat hulle Hom nie getrou gevolg het nie. Hy het met 'n eed verklaar dat die manne van twintig jaar en ouer wat uit Egipte getrek het, nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie.

12. Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg.

13. Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het.

14. En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel.

Lees volledige hoofstuk Numeri 32