Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 27:11-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat dié dit kan besit.”Dit moet vir die Israeliete 'n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen Abarimberg uit en bekyk die land wat Ek aan die Israeliete gee.

13. Nadat jy dit bekyk het, sal jy sterwe net soos jou broer Aäron,

14. want toe die volk by Meriba in die Sinwoestyn teen My in opstand gekom het, het julle julle teen my bevel verset en My, die Heilige, nie voor die volk gehoorsaam nie.”Dit het gebeur by die Meribawaters by Kades in die Sinwoestyn.

15. Moses sê toe vir die Here:

16. “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel

17. wat vir hulle 'n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

18. Toe sê die Here vir Moses: “Neem vir Josua seun van Nun, 'n man op wie my Gees is, en lê hom die hande op.

19. Laat hom voor die priester Eleasar en voor die hele volk staan en sê vir hom in hulle teenwoordigheid wat sy taak is.

20. Dra van jou gesag aan hom oor sodat die hele volk Israel hom kan gehoorsaam.

21. Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom met die urim die beslissing van die Here vra. Alleen op Eleasar se bevel sal Josua en die hele volk Israel vir oorlog optrek en van die oorlog af terugkom.”

22. Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua voor die priester en die hele volk laat staan,

23. hom die hande opgelê en vir hom gesê wat sy taak is soos die Here deur Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 27