Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 27:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom. Hulle het aan die Manassestam behoort. Selofgad was 'n seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef. Die dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

2. Hulle het voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan en gesê:

3. “Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bende wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie.

4. Waarom moet ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons grond tussen dié van sy familie.”

5. Moses het hulle saak voor die Here gebring,

6. en die Here het vir hom gesê:

7. “Selofgad se dogters het gelyk. Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond tussen dié van hulle pa se familie gee. Gee vir hulle die grond wat hulle pa sou gekry het.

8. “Sê vir die Israeliete: As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy grond aan sy dogter gee.

9. As hy ook nie 'n dogter het nie, gee sy grond vir sy broers.

10. As hy nie broers het nie, gee dit vir sy ooms aan vaderskant.

11. En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat dié dit kan besit.”Dit moet vir die Israeliete 'n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen Abarimberg uit en bekyk die land wat Ek aan die Israeliete gee.

13. Nadat jy dit bekyk het, sal jy sterwe net soos jou broer Aäron,

14. want toe die volk by Meriba in die Sinwoestyn teen My in opstand gekom het, het julle julle teen my bevel verset en My, die Heilige, nie voor die volk gehoorsaam nie.”Dit het gebeur by die Meribawaters by Kades in die Sinwoestyn.

15. Moses sê toe vir die Here:

16. “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel

17. wat vir hulle 'n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 27