hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.

2. Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.

3. Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand.

4. Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.

5. Esra die skrifgeleerde het op 'n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

6. Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan.

7. Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”Toe kniel hulle en buig diep voor die Here.

8. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan.

9. Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.

10. Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11. Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

12. Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is 'n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”

13. Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot feesgevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.

Die huttefees

14. Die volgende dag het die familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en Leviete by Esra die skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet te bestudeer.

15. Hulle vind toe in die wet geskrywe dat die Here deur Moses opdrag gegee het dat die Israeliete in hutte moet woon vir die duur van die fees in die sewende maand,

16. en dat hulle die oproep moet maak en dit in al die stede en in Jerusalem moet laat afkondig: “Gaan na die berge toe en bring olyftakke, olientakke, mirtetakke, palmtakke, takke met digte blare om hutte te maak soos dit voorgeskryf is.”

17. Die mense het die takke gaan haal, en elkeen het vir hom 'n hut gebou, op die dak van sy huis of in sy binneplaas of in die voorhof van die tempel of op die plein by die Waterpoort of op die plein by die Efraimspoort.

18. Die hele gemeente, die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het hutte gebou en daarin gaan woon. So het die Israeliete dit nie gedoen van die tyd van Josua seun van Nun af tot dié dag toe nie. Daar was baie groot vreugde.

19. Van die eerste tot die laaste dag van die fees het hulle elke dag uit die wetboek van God voorgelees. Hulle het sewe dae lank feesgevier, en op die agste dag was daar die gebruiklike samekoms.