Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 6:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die res van ons vyande het berig gekry dat ek die muur klaar gebou het en dat dit nêrens meer vervalle was nie. In dié stadium was die poortdeure egter nog nie gehang nie.

2. Sanballat en Gesem laat my toe weet: “Kan ons mekaar in Kefirim, in die Onolaagte, ontmoet?”Hulle plan was om my by te kom.

3. Ek stuur toe boodskappers na hulle toe en sê: “Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?”

4. Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur, en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur.

5. Die vyfde keer stuur Sanballat toe 'n amptenaar na my toe met dieselfde boodskap, maar ook met 'n brief wat nie verseël was nie.

6. Daarin was geskrywe:“Onder die nasies word 'n gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs 'n opstand beplan. Daarom bou jy die muur. Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle,

7. en jy het ook al profete aangestel om jou in Jerusalem tot koning oor Juda uit te roep. Die gerug wil dat die koning van Persië hiervan te hore sal kom. Kom nou, kom ons praat.”

8. Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.”

9. Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie.Sterk tog my hande, o God!

Lees volledige hoofstuk Nehemia 6