Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:6-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk.

7. Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod was hewig ontsteld toe hulle hoor die herstel aan Jerusalem se mure vorder en die afgebreekte gedeeltes is byna klaar opgebou.

8. Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig.

9. Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit.

10. Die Judeërs het begin kla:“Die draers se kragte gee in,die puin is te veel.Ons gaan dit nie regkryom die muur klaar te bou nie.”

11. Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie.

12. Ons is egter keer op keer gewaarsku deur Judeërs wat naby ons vyande gewoon het en van oral af na ons toe gekom het.

13. Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie.

14. Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.”

15. Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe.

16. Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs

17. wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand 'n wapen vasgehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4