Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Tevore het die priester Eljasib, wat in beheer was van die opslagplek by die huis van ons God en familie van Tobija was,

5. vir Tobija 'n groot kamer ingerig wat tevore gebruik was vir die graanoffer, die wierook, die offergereedskap, die tiendes van koring, wyn en olie, die aandeel van die Leviete, die sangers en die poortwagte, en die offergawe vir die priesters.

6. Ek was nie in Jerusalem toe dit alles gebeur het nie, want in die twee en dertigste regeringsjaar van koning Artasasta van Babel is ek terug na die koning toe. Ek kon eers met verloop van tyd van die koning verlof vra

7. en na Jerusalem toe kom. Toe ek uitvind watter verkeerde ding Eljasib gedoen het deur vir Tobija 'n kamer in die voorhof van die tempel in te rig,

8. was ek baie kwaad. Ek het al Tobija se huisraad uit die kamer gegooi

9. en opdrag gegee dat die kamer gereinig moet word. Daarna het ek die goed wat in die tempel gebruik is, en die graanoffer en die wierook daar teruggesit.

10. Verder het ek uitgevind dat die Leviete nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie, en dat hulle en die sangers wat dienswerk moes doen, weg is, elkeen na sy eie grond toe.

11. Ek het die ampsdraers sterk aangespreek en gesê: “Waarom is die tempel verwaarloos?” Daarna het ek die Leviete weer bymekaargemaak en in hulle poste teruggeplaas.

12. Die hele Juda het daarna die tiendes van koring, wyn en olie ingebring na die voorraadkamers toe.

13. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die voorraadkamers geplaas, en hulle is bygestaan deur Ganan seun van Sakkur, seun van Mattanja. Hulle is as betroubaar beskou, en dit was hulle taak om die uitdeling aan hulle ampsgenote te doen.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13