Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Daarna het hy die ram geslag wat vir homself bedoel was as brandoffer. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel.

13. Hulle het ook die stukke en die kop van die brandofferdier vir hom aangegee, en hy het dit op die altaar aan die brand gesteek.

14. Hy het die binnegoed en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand.

15. Daarna het Aäron die offer van die volk na die altaar toe gebring. Hy het die bokram wat as sondeoffer vir die volk bedoel was, gevat, hom geslag en geoffer op dieselfde manier as die vorige sondeoffer.

16. Hy het ook die brandoffer van die volk na die altaar toe gebring en dit volgens die voorskrif geoffer.

17. Toe het hy die graanoffer nadergebring en 'n handvol daarvan op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die daaglikse brandoffer.

18. Die bul en die ram wat bedoel was as maaltydoffers van die volk, het hy ook geslag. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom aangegee en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel.

19. Sy seuns het die vetdele van die bul en die ram, naamlik die vetstert, die niervet, die niere en die punt van die lewer,

20. op die borsstukke gepak en dit alles vir Aäron aangegee. Hy het die vetdele op die altaar verbrand,

21. maar die borsstukke en die regterboud het hy as beweegoffer aan die Here aangebied soos Moses hom beveel het.

22. Nadat Aäron die sondeoffer, die brandoffer en die maaltydoffers gebring het, het hy sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseën. Hy het van die altaar afgeklim

23. en saam met Moses in die tent van ontmoeting ingegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar:

24. vuur wat van die Here gekom het, het die oorblyfsels van die brandoffer en die vetstukke op die altaar weggebrand. Toe die volk dit sien, was daar uitroepe van blydskap en het almal op hulle knieë geval.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9