Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe die week verby was, het Moses vir Aäron, sy seuns en die leiers van Israel laat roep.

2. Hy sê toe vir Aäron: “Vat 'n bulkalf en 'n ram, altwee sonder liggaamsgebrek, en offer die kalf as 'n sondeoffer en die ram as 'n brandoffer aan die Here.

3. Sê dan vir die Israeliete hulle moet 'n bokram bring as sondeoffer en 'n bulkalf en 'n lam as brandoffer, almal 'n jaar oud en sonder liggaamsgebrek.

4. Hulle moet ook 'n bul en 'n ram bring as 'n maaltydoffer aan die Here, sowel as 'n graanoffer wat met olie aangemaak is, want die Here wil Hom vandag aan julle openbaar.”

5. Hulle het alles wat Moses beveel het, na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring en die hele gemeente het saamgekom en in die teenwoordigheid van die Here kom staan.

6. Toe sê Moses: “Ons sal nou doen wat die Here beveel het. Dan sal die magtige teenwoordigheid van die Here aan julle geopenbaar word.”

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom nader na die altaar toe en offer die sondeoffer en die brandoffer wat vir jouself bedoel is, en doen versoening vir jouself en jou mense. Bring daarna die offer van die volk en doen versoening vir hulle soos die Here beveel het.”

8. Aäron het nader gegaan na die altaar toe en die kalf geslag wat bedoel was as sondeoffer vir homself.

9. Sy seuns het die bloed vir hom na die altaar toe gebring en hy het sy vinger in die bloed gesteek en daarvan aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die fondament van die altaar uitgegooi.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9