Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Laat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van ontmoeting toe kom. Bring die klere, die salfolie, die bul vir die sondeoffer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood,

3. en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom.”

4. Moses het die bevel van die Here uitgevoer, en toe die gemeente bymekaar was voor die tent van ontmoeting,

5. het Moses vir hulle gesê: “Ek sal nou daartoe oorgaan om te doen wat die Here my beveel het.”

6. Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom na die altaar toe en hulle gewas.

7. Daarna het hy die priesterklere vir Aäron aangetrek en die serp vir hom omgebind. Hy het die mantel vir hom omgehang en die skouerkleed vir hom aangetrek deur dit met die band wat daaraan was, om sy lyf vas te maak.

8. Hy het ook die borssak daaraan vasgebind en die urim en tummim in die borssak gesit.

9. Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het.

10. Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy.

11. Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy.

12. Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy.

13. Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het.

14. Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit.

15. Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8