Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 7:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood.

15. “Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie.

16. “As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word,

17. maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word.

18. As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig.

19. “Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word.“Iemand wat rein is, mag offervleis eet,

20. maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word.

21. As iemand aan iets onreins van 'n mens of van 'n dier raak, aan enigiets wat afstootlik en onrein is, en so iemand eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet dié persoon van sy volksgenote afgesny word.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie.

24. Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie.

25. Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word.

26. “Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 7