Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:3-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Of hy kry dalk iets wat weggeraak het, maar ontken dit en lê 'n vals eed af oor enige saak waarin 'n mens in dié opsig sou kon sondig.

4. As hy so gesondig en hom skuldig gemaak het, moet hy teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het of wat in sy bewaring gegee was of wat weggeraak het en deur hom gevind is,

5. of wat ook al waaroor hy 'n vals eed afgelê het. Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog 'n vyfde bysit.

6. As skuldoffer bring hy vir die Here 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde,

7. en die priester doen voor die Here versoening vir die skuldige, en sy sonde word hom vergewe, hoe hy hom ook al skuldig gemaak het.”

8. Die Here het vir Moses gesê:

9. “Gee aan Aäron en sy seuns die volgende opdrag: Die reëling oor die brandoffer is soos volg, die brandoffer naamlik wat die hele nag deur tot die môre toe op die vuurmaakplek op die altaar is terwyl die vuur aan die brand gehou word:

10. die priester trek sy linnekleed en linnebroek aan, en tel die vet op wat uitgebraai het toe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en sit dit langs die altaar.

11. Hy trek sy klere uit en trek ander klere aan en bring die vet buite die kamp na 'n rein plek toe.

12. Die vuur op die altaar word aan die brand gehou; dit mag nie doodgaan nie. Die priester pak elke môre hout op die vuur, lê die brandoffer daarop en verbrand op die altaar die vet van die maaltydoffers.

13. Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie.”

14. “Die reëlings oor die graanoffer is soos volg: een van Aäron se seuns bied dit vir die Here aan voor die altaar.

15. Hy vat daaruit 'n handvol meel en olie en al die wierook bo-op die graanoffer en verbrand dit op die altaar. Die simbool van die hele offer word aanvaar deur die Here.

16. Aäron en sy seuns eet die oorblywende deel. Daar kom nie suurdeeg by nie. Hulle eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting.

17. Dit word gebak, maar nie met suurdeeg nie. Dit is hulle deel wat Ek hulle uit my vuuroffer gee. Dit is 'n besondere gewyde gawe, net soos die sondeoffer en die skuldoffer.

18. Enige van die manlike nasate van Aäron mag daarvan eet. Dit is 'n vaste instelling vir julle nageslag met betrekking tot die vuuroffers van die Here. Elkeen wat daaraan raak, moet 'n gewyde wees.”

19. Die Here het vir Moses gesê:

20. “Aäron en elkeen wat hom opvolg, moet op die dag van sy salwing die volgende offergawe vir die Here aanbied: twee kilogram meel as graanoffer, die helfte in die môre en die helfte in die aand. Dit is 'n blywende voorskrif.

21. Die offergawe word met olie aangemaak op 'n bakplaat en die mengsel word as graanoffer in stukkies aangebied. Dit is aanvaarbaar vir die Here.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6