Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:39-55 Afrikaans 1983 (AFR83)

39. “Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie.

40. Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly.

41. Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe.

42. Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie.

43. Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie.

44. Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop.

45. Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom

46. wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie.

47. “Wanneer 'n vreemdeling of 'n bywoner in julle land ryk word, en 'n mede-Israeliet raak by so iemand in die skuld sodat hy hom as slaaf moet verkoop aan die nie-Israeliet of dié se nageslag,

48. het die Israeliet die reg om vrygekoop te word. Een van sy broers

49. of 'n oom of 'n neef of 'n ander manlike familielid kan hom vrykoop. As so 'n slaaf genoeg geld bymekaarkry, kan hy homself vrykoop.

50. In so 'n geval moet die bedrag waarteen hy as slaaf verkoop is en die getal jare van die tyd af dat hy verkoop is tot die volgende hersteljaar toe, in berekening gebring word. Hy moet dan krediet ontvang vir die jare wat hy reeds diens gedoen het en as dagloner sy skuld afgewerk het.

51. As dit lank voor die hersteljaar is, sal die vrykoopprys dus 'n groot deel van die oorspronklike verkoopprys uitmaak.

52. As daar net 'n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die vrykoopprys slegs 'n klein deeltjie van die oorspronklike verkoopprys wees.

53. Hy het soos 'n dagloner jaar na jaar vir die nie-Israeliet gewerk. Jy moet sorg dat hy nie hard behandel word nie.

54. As hy nie voor die tyd vrygekoop word nie, moet hy en sy afhanklikes vrygelaat word in die hersteljaar.

55. Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25