Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:13-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry.

14. Wanneer julle grond verkoop of koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie.

15. Die koop- of verkoopprys moet bepaal word volgens die aantal oeste wat die stuk grond kan oplewer tot die volgende hersteljaar.

16. As dit lank voor die volgende hersteljaar is, moet die prys hoër wees, maar as daar min jare oor is, moet die prys laer wees, want in werklikheid word alleen die opbrengs tot die volgende hersteljaar verkoop.

17. Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God.

18. “Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon.

19. Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon.

20. Julle kan julle miskien afvra waarvan julle elke sewende jaar moet leef, aangesien julle nie mag saai of 'n oes insamel nie.

21. Ek sal aan julle oorvloed gee in die sesde jaar sodat die oes groot genoeg sal wees vir drie jaar.

22. Wanneer julle in die agste jaar weer saai, sal julle nog steeds die oes van die sesde jaar gebruik. Julle sal selfs genoeg hê totdat julle in die negende jaar die oes insamel.

23. “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.

24. Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld.

25. Wanneer 'n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop.

26. Wanneer daar nie iemand is wat dit kan terugkoop nie, kan dit gebeur dat die persoon later self genoeg geld bymekaarmaak om die grond terug te koop.

27. Die aantal jare wat verloop het sedert die kooptransaksie moet dan in berekening gebring word en die oorspronklike eienaar moet die koper slegs uitbetaal vir die seisoene wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die oorspronklike eienaar kan dan weer sy grond in besit neem.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25