Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet.

7. Op die eerste dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie.

8. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”

9. Die Here het verder vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem.

11. Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen.

12. Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook 'n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring,

13. sowel as 'n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word.

14. Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet 'n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.

15. “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.

16. Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here 'n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23