Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:33-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Die Here het vir Moses gesê:

34. “Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here.

35. Op die eerste dag van die fees moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie.

36. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Op die agste dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet 'n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie.

37. “Dit is die feestye wat deur die Here bepaal is, die tye waarop julle gewyde byeenkomste moet hou om offers aan die Here te bring: brandoffers en graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos vir elke feesdag voorgeskryf.

38. Daarnaas is daar nog die gewone sabbatte van die Here, die gewone geskenke aan die heiligdom en al die offers wat julle bring om geloftes na te kom of wat julle vrywillig aan die Here gee.

39. “Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugteoes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agste dag moet rusdae wees.

40. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God.

41. Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier. Dit moet 'n vaste instelling wees vir julle nageslag. Julle moet dit in die sewende maand vier.

42. Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23