Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:16-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok.

17. Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit.

18. Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.”Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek,

19. en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek.

20. Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe.

21. Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan.

22. Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie.

23. Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat.

24. Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak.

25. Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai.

26. Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie.

27. Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het.

Lees volledige hoofstuk Josua 8