Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor.

2. Jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jerigo en sy koning gedoen het. Net die buit en die vee kan julle vir julle vat. Laat van die manskappe hulle agter die stad versteek.”

3. Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig duisend dapper manne gekies en hulle in die nag gestuur

4. en hulle beveel: “Julle moet julle agter die stad versteek, nie te ver van die stad af nie, en julle moet gereed wees.

5. Ek en al die manskappe by my sal na die stad toe aankom, en as hulle ons tegemoet kom, soos die vorige keer, sal ons vir hulle vlug.

6. Hulle sal agter ons aan kom en so sal ons hulle van die stad af weglok. Hulle sal dink ons vlug vir hulle soos die vorige keer. Ons sal vir hulle vlug,

7. en dan moet julle uit die skuilplek opstaan en die stad in besit neem. Die Here julle God gee dit aan julle oor.

8. Wanneer julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Julle moet doen wat die Here beveel het. Ek dra die opdrag nou aan julle oor.”

9. Josua het hulle toe laat gaan en hulle het hulle gaan versteek. Hulle het tussen Bet-El en Ai gelê, wes van Ai. Josua het dié nag tussen die manskappe geslaap.

10. Vroeg die môre is Josua uit. Hy het sy manskappe in gelid opgestel en hy en die leiers van Israel het die manskappe na Ai toe gelei.

11. Al die manskappe by hom het opgetrek en nader gegaan en reg voor die stad aangekom. Hulle het kamp opgeslaan noord van Ai. Die laagte was tussen hulle en Ai.

12. Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad.

13. Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe.

14. Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 8