Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie.

2. Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee.

3. Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen.

4. Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra.“Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas,

5. en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”

6. Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.”

7. Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”

8. Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom.

9. Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

10. Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of 'n geluid laat hoor nie; nie 'n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.”

Lees volledige hoofstuk Josua 6